Make money doing the work you believe in

Veldtog teen 'regs' soos brandstapel

Christi van der Westhuizen is 'n selferkende "linkse" wat gereeld 'n karikatuur van die "regse gevaar" in ons land en elders ter wêreld opdis. In haar onlangse meningsartikel ("Van regs tot aweregs") praat sy van 'n globale "polarisering" en "radikalisering van standpunte".

Verder trakteer sy ons op die Ossewa-Brandwag van byna 'n eeu gelede wat 'n voorbeeld sou wees van "fascisme" wat 'n "houvas" op "wit regsheid" in ons land verkry het. In haar voëlvlug oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis vergeet sy egter van linkse radikalisme in die vorm van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, vir wie die ANC dekades lank 'n blote frontorganisasie was.

Trouens, ons land se geskiedenis is vergelykbaar met dié van vele Oos-Europese lande waar sterk kommunistiese bewegings in die twintigste eeu miljoene mense op allerlei maniere geteister het. Dink maar aan die berugte "muurskieters" van Oos-Duitsland wat mense doodgeskiet het wat uit hul eie land wou vlug.

Suid-Afrika het jare lank weens die inmenging van Oos-Europese state, die Skandinawiese lande en ander, onder terreur en ongekende propagandaveldtogte deurgeloop. Uiteindelik het die Nasionale Party die miljoene wit en swart behoudendes in die land verraai deur boedel oor te gee aan Joe Slovo en Nelson Mandela.

In Europa en elders word selfs liberale partye in 'n meer neutrale sin as "regs" getipeer, bloot omdat hulle nie sosialisme voorstaan nie. Die enigste ander land waar "regs" 'n vloekwoord is, is Kuba, die laaste "werkersparadys" op aarde en "vriend van Suid-Afrika". In Bloemfontein is daar glad 'n standbeeld van Fidel Castro opgerig!

Trouens, die bydrae van Links tot ons beskawing is taamlik beperk. Sedert die Renaissance was die meeste argitekte, kunstenaars, skrywers, filosowe, wetenskaplikes, nyweraars en ingenieurs meesal regs of konserwatief. Die hele moderne beweging in die twintigste eeu was insgelyks nie-links. In die voormalige Sowjetunie is skrywers en kunstenaars gedwing om "sosiaal-realisme" te gebruik, en "moderne dekadensie" kon jou maklik in 'n strafkamp, oftewel die "goelag", laat beland.

Die meeste klassieke komponiste was regses, veral natuurlik Wagner. Dit verhoed egter nie linkse Duitse politici om saam met die res van die Duitse elite opvoerings van sy operas in die Festspielhaus te Bayreuth by te woon nie.

Van der Westhuizen fokus op die uitgesproke Amerikaner Stephen Miller. Maar ten minste het Miller hom in 2006 uitgespreek teen die vals aanklagte van verkragting deur 'n swart vrou teen drie wit lacrosse-spelers aan die Duke-universiteit. Eers in 2024, nadat sy tronkstraf vir moord uitgedien het, het die klaagster, Crystal Mangum, erken dat sy gelieg het en haar verskoning aangebied.

Die linkse droom van gelykheid het in 1989 skipbreuk gely. Sedertdien hang "links" vreemde denkvorme aan: anti-wit-rassisme, geslagsverandering deur operasies, en streng sensuur teen andersdenkendes – wat ook soms "kansellering" heet.

Kansellering kom neer op geestelike terreur, wat in 'n mate die fisieke terreur van weleer vervang het. Dit herinner my so ietwat aan die Katolieke Kerk in die Middeleeue wat afvalliges soos Jan Hus, Johanna van Arkel, Girolamo Savonarola en Giardano Bruno op die brandstapel tereggestel het.

In suidelike Afrika het marxisme en kommunisme 'n bloedspoor van vernietiging nagelaat. Dink maar aan Samora Machel in Mosambiek, Robert Mugabe in Zimbabwe, asook Isabel dos Santos, wat die Angolese staat geplunder het op soortgelyke wyse as wat die Guptas tydens die Zuma-bewind in Suid-Afrika gedoen het.

As 'n mens spraakvryheid voorstaan en teen staatsverval gekant is, is jy seker 'n "regse", of hoe?

Jul 22
at
9:56 AM
Relevant people

Log in or sign up

Join the most interesting and insightful discussions.